Waters of Life

Biblical Studies in Multiple Languages

Search in "Afrikaans":
Home -- Afrikaans -- Romans - 043 (In Christ, Man is Delivered)
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic -- Armenian -- Azeri -- Bengali -- Bulgarian -- Cebuano -- Chinese -- English -- French -- Georgian -- Greek -- Hausa -- Hebrew -- Hindi -- Igbo -- Indonesian -- Javanese -- Kiswahili -- Malayalam -- Polish -- Portuguese -- Russian -- Serbian -- Somali -- Spanish -- Tamil -- Telugu -- Turkish -- Urdu? -- Yiddish -- Yoruba

Previous Lesson -- Next Lesson

ROMEINE - Die Here is ons Geregtigheid
Studies in die Brief van Paulus aan die Romeine
DEEL 1 - DIE GEREGTIGHEID VAN GOD VEROORDEEL ALLE SONDAARS EN REGVERDIG EN HEILIG ALLE GELOWIGES IN CHRISTUS (Romeine 1:18 - 8:39)
D - DIE KRAG VAN GOD BEVRY ONS VAN DIE MAG VAN SONDE (Romeine 6:1 - 8:27)

6. In Christus is die mens bevry van sonde, dood en veroordeling (Romeine 8:1-11)


ROMEINE 8:9-11
9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. 10 Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. 11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Paulus getuig aan die gelowiges in Rome en oral dat die Gees hulle lui liggame en kwaadwilligheid oorkom het, want hulle is in die krag en motiewe van die Heilige Gees bevestig. Daarom het hy hulle geskep, hulle weergebore gemaak, hulle getroos en bevestig, gevul met die liefde van God, hulle aangemoedig tot diens en hulle daartoe versterk. Elke gelowige was bly dat die Heilige Gees in hulle woon.

Hy wat egter nie die Heilige Gees in sy hart het nie, is nie ‘n Christen nie, hoewel hy dalk van Christene gebore is, want die naam beteken “hy wat met die Gees van God gesalf is”. Soos Christus self gesalf is met die volheid van sy Vader se Gees, so ook die gelowige. Dis nie die naam, oorsprong, doop of kerklidmaatskap wat van jou ‘n Christen maak nie. Dis slegs deur die krag van die Here wat in jou woon, dat jy ‘n aktiewe lid in Christus word wat aan hom behoort, ‘n lewende steen in sy tempel. Hy wat nie hierdie gawe van lewe ontvang het nie, bly leeg aan die liefde van God en het niks te doen met Christus nie. Hy is van hom geïsoleer. Slegs hy wat uit die Heilige Gees gebore is, is naby Christus en behoort aan hom. Moet daarom nie louwarm wees nie, maar wees bewus dat hy wat nie volkome en vir ewig aan Christus vashou nie, het geen deel aan hom nie. Christus wil jou volkome vir homself hê en hy woon in sy volheid in jou. Anders is jy van hom geskei, want huiwerige geloof is nie geloof nie.

Aanbid die Here, want Christus sal in jou lewe as jy die salwing van sy liefde kry. Almal wat in die Gees lewe, getuig van hierdie wonderwerk, want hy bevestig aan hulle sy teenwoordigheid in hul gedagtes.

Moenie dink dat beide Christus en sonde in jou liggaam woon nie. Jy kan nie ander haat en terselfdertyd vir Christus lief wees nie. Jy kan nie aan onreinheid toegee en aanspraak maak op die volheid van die Heilige Gees nie, want hierdie Gees is jaloers en vernietig jou sonde ongenadiglik. Jou gewete vind nie rus totdat jy jou sonde bely het en daaroor met trane berou getoon het nie. Jy moet dit verag en haat, jou hoogmoedigheid vernietig en jou besoedeling opnuut voor Christus neerlê. Die Gees van God stry teen jou sondes en heilig jou volkome, want Jesus het jou na heiligheid geroep en nie na onreinheid nie.

Die bloed van Christus sal jou van alle sonde reinig as jy in hom en sy beloftes glo. Sy krag word in jou swakheid groot gemaak. Jou wil word versterk, jy verloën jouself en lewe vir God. Onthou dat jou liggaam sal sterf weens jou sonde, maar die gees wat aan jou gegee word vanuit die hemel, lewe vir altyd. Ons het daarom ‘n onvergelykbare hoop, want ons dra die lewe van God in ons as die versekering van die heerlikheid wat verwag word by die koms van ons Here.

Dieselfde krag wat in Christus gewerk het toe hy uit die graf opgestaan het, is in elke lewende gelowige teenwoordig. God sal die vloei van sy lewe beheer by die koms van Christus. Dit sal wys dat ongelowiges dooie siele het, terwyl ons lewend en heerlik is deur genade. Die Gees van God werk in ons en sal in glorie, vreugde en krag verskyn, want hy is God.

GEBED: O lewende Here, ons aanbid u want u het u Heilige Gees aan ons gegee sodat ons vir ewig as u kinders mag leef, geregverdig deur die dood van Christus en gebind aan hom. U het ons gered van ons ongeloof en verdorwenheid. Dankie dat die dood ons nie kan gevange neem nie omdat ons in u hand beskerm word en dat die versekering van u glorie in ons woon sodat ons soos u Seun tussen nydige mense mag leef .

VRAAG:

  1. Wat gee die Heilige Gees aan hulle wat in Christus glo?

www.Waters-of-Life.net

Page last modified on October 09, 2013, at 08:54 AM | powered by PmWiki (pmwiki-2.3.3)